Die verhaal van HOOP en OMGEE, maar ook die verhaal van KLEINFONTEIN.
Dit was net na 06:30 op ‘n koel someroggend. Dit was nog af en toe nodig om die reënveërs aan te skakel om die laaste reëndruppels van die voorruit af te vee. Orals het waterplasse gelê en om dit mis te ry, was moeilik.
Op ons pad het ons naby Kleinfontein se swembad twee figure, ‘n volwassene en ‘n heelwat kleiner figuurtjie, opgemerk. Soos ons nader gery het, het ek my verwonder aan die middeljarige dame en die kleiner figuurtjie. Die dame het ‘n blou baadjie, wat dieselfde kleur was as die oë van die dogtertjie wat by haar was, aangehad. Sy het die hand van die dogtertjie stewig vasgehou. Ons het gestop en ‘n saamrygeleentheid aangebied. Die aanbod is hoflik aanvaar waarna hulle hul op die agtersitplek tuisgemaak het.
Deur middel van die truspieëltjie het ek met die ouer dame begin gesels en ‘n hartverskeurende verhaal het ontvou: Ouma en haar kleinkind was op pad na Ouma se werk waar sy by ‘n paar huise was en stryk en ook ‘n bejaarde oom oppas; klein Jessica moes eintlik op skool wees, maar geld vir die skoolfonds was daar nie. Toe ek in die truspieël oogkontak met Jessica maak het ek opgemerk dat haar reënjas ‘n swart vullissak, wat sy met albei handjies vasgeklou het, was. Toe ek ‘n selfoonfoto van dié twee mensies geneem het, was Jessica se oë terselfdertyd onseker én bang.
Nadat ons vir Ouma en kleine Jessica afgelaai het, was ons almal in die motor vir ‘n wyle doodstil, waarna vrae soos “hoekom só?” en “hoe kan hulle gehelp word?” gevolg het. Ons was dit egter almal eens dat ons baie, baie bevoorreg is.
Uit die kort gesprek kon ons wel aflei dat Ouma en Jessica in een van Kleinfontein se ouer gedeeltes, Dagbreek, gebly het. Hulle sinkhuisie was yskoud in die winter en bloedig warm in die somer.
Jessica se Hout-Sink huis
Ons het ons na die sosiale media gewend, en ‘n slegs één Facebook-inskrywing het die Jessica-verhaal en –situasie mense se harte aangegryp. Dié inskrywing is ‘n paar duisend keer gedeel en om Jessica skooltoe te stuur, was op almal se lippe. Baie gou is nie net Jessica nie, maar nog twee ander behoeftige kinders se skoolfonds by die plaaslike CVO-skool geborg (weens die kompleksiteit rondom die vervoer van en na die naaste staatsskool, was dit nie ‘n opsie nie).
Sedertdien het Jessica die simbool van hoop geword en het dit ook die leuse van die plaaslike skool: “Ons Kinders is Kosbaar” bo alle twyfel onderstreep. Met die borg vir haar skoolfonds en ‘n tassie vanaf Solidariteit se Helpende Hand-beweging, het ‘n hartseer swartsak-figuurtjie nie net ‘n kans gekry om skool toe te kan gaan nie, maar ‘n baie mooi omgee-kettingreaksie laat ontstaan.
Dié geleentheid om ‘n skool te kan bywoon, het Jessica uitnemend benut en tot onlangs het die vele sertifikate van haar prestasies die sinkhuis se mure versier.
Die Omgee, Liefde en Hoop het sodanig toegeneem dat daar op 22 November 2019 in alle erns met die volgende fase van Projek Jessica begin is waarna daar gereeld plasings op Facebook was wat die vordering deur middel van foto’s uitgebeeld is. Vriende het begin wonder en, soms ongeduldig, vrae gevra: Wat is Projek Jessica en waaroor gaan dit?
(Op dag 11 het die foon gelui. Ek het die growwe stem van die weldoener-prokureur van Pretoria herken wat, in min woorde, wou weet wanneer hy die 2020-skoolfondsfaktuur van Jessica ontvang!)
Intussen was Kleinfontein se bobaasbouer in beheer en 15 werksdae later was Jessica en haar Ouma se baksteenhuis kant en klaar. Met ‘n breë glimlag kon twee klein handjies die afgelope Kersdag haar eie voordeur oopsluit! ‘n Klompie Kleinfonteiners neem die verantwoordelikheid om Jessica-se-baksteenhuis se huur te betaal sodat haar skoolprestasie-sertifikate nou teen haar eie kamer se baksteenmuur uitgestal kan word!
En nou dat die seisoen van Omgee en Hoop plek maak vir die gewoel en die gewerskaf van dit wat die nuwe jaar inhou. Gaan ons dan van die Jessicas van hierdie wêreld, en dan veral hier op Kleinfontein, vergeet?
As jý ‘n verskil kan en wil maak, of selfs nog ‘n Jessica ‘n kans kan gee, kontak ons asseblief by vriende@kleinfontein.net
‘n Maklike veilige aanlyn Donasie funksie is ook sekuur beskikbaar .